{"product_id":"die-swerfjare-van-poppie-nongena","title":"Die swerfjare van Poppie Nongena - Elsa Joubert (First edition)","description":"\u003cp\u003eSoos in van haar vorige boeke behandel Elsa Joubert in \u003cem\u003eDie Swerfjare van Poppie Nongena\u003c\/em\u003e weer die tema wat Hennie Aucamp omskryf het as \"die saamleefpatroon binne veelrassige gemeenskappe\". Terwyl sy in \u003cem\u003eOns wag op die kaptein\u003c\/em\u003e en \u003cem\u003eBonga\u003c\/em\u003e Angola en Mosambiek as skryfterrein kies, staan sy met hierdie boek vierkant binne die Suid-Afrikaanse ervaringswêreld. \u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003ePoppie Nongena, ’n swartvrou, word in Upington se lokasie by haar ouma groot. Xhosa ken sy swak - eintlik praat sy net Afrikaans. \u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003eWeens ’n sameloop van omstandighede beland sy en haar mense op Lambertsbaai. Hier gaan sy skool, werk later in ’n visfabriek en trou met Stone Nongena, ’n boorling van die Transkei. ’n Paar jaar na hul aankoms op die dorp word die swartmense aangesê om Lambertsbaai te verlaat en trek die gesin Kaap toe waar hulle in Jakkalsvlei, ’n woonbuurt van Nyanga, ’n sinkhuis bekom. \u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003eIn dié mistroostige omgewing probeer Poppie haar kinders grootmaak so goed sy kan. Sy kry inslaapwerk en gaan net Sondae huis toe. Haar tydelike werkpermit word tien jaar lank vir tydperke van twee tot drie of op die meeste ses maande lank hernieu, maar uiteindelik word sy en haar kinders gedwing op Kaapstad te verlaat. Hulle word hervestig in ’n lokasie digby Oos-Londen terwyl Stone in Nyanga agterbly.\u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003eVier jaar later, na Stone se dood, keer sy as broodwinner terug Kaap toe - net om vasgevang te word in die onluste wat in 1976 in ’n vloedgold van geweld oor die land losbars.\u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003eHoewel \u003cem\u003eDie Swerfjare van Poppie Nongena\u003c\/em\u003e om die figuur van Poppie gaan, verkry die boek algemeen-menslike geldigheid deurdat dit ook van duisende swartmense vertel wat hulle in soortgelyke omstandighede bevind. Poppie en haar familie versinnebeeld die begeertes, woede en frustrasies van die stedelike swarte.\u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003eIn ’n eie idioom vertel hulle van die steeds toenemende swart ontevredenheid en vervreemding wat onafwendbaar op die stakings van 1960 en die onluste van 1976 uitloop. Hulle vertel hoe dit gebeur dat baie swartmense verskeur word tussen die tradisionele Xhosa-geloof en die Westerse godsdiens; waarom die tuislande vir baie swartes na ’n leeftyd in ’n blanke gebied onaanvaarbaar geword het.\u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003eKortom: in hierdie boek word die stedelike swartmense se leefwyse soos nog nie tevore nie in Afrikaans openbaar gemaak.\u003c\/p\u003e\n\u003cp\u003eDie Swerfjare van Poppie Nongena is outentiek en feitelik waar - ’n belangrike stuk hedendaagse geskiedskrywing, opgeteken in ’n pakkende en strak joernalistieke styl; objektief, maar plek-plek so sensitief-persoonlik dat dit die leser diep ontroer. Dit is nie sensasioneel , sentimenteel, of ’n romantisering van die verdrukte nie, maar ’n nugter relaas met sterk politieke bowe- en newetone - sonder dat dit ’n politieke betoog word.\u003c\/p\u003e","brand":"The Story Station","offers":[{"title":"Default Title","offer_id":50198297411823,"sku":"DIE05183","price":109.0,"currency_code":"ZAR","in_stock":true}],"thumbnail_url":"\/\/cdn.shopify.com\/s\/files\/1\/0650\/6538\/6223\/files\/wre.jpg?v=1784451375","url":"https:\/\/www.thestorystation.co.za\/products\/die-swerfjare-van-poppie-nongena","provider":"The Story Station","version":"1.0","type":"link"}